Basiese beleggingsbeginsels (wanneer markte agteruitgaan)
U ontvang hierdie nuusbrief wanneer ons ons in ‘n tydperk van hoë volatiliteit in die beleggingsmarkte bevind. Oor die afgelope vyf jaar het ons u dikwels van gesonde beginsels ingelig wat gevolg moet word wanneer die markte ‘n insinking beleef. Alhoewel sulke tye altyd moeilik is, is dit juis die tyd om by ‘n bewese beleggingstrategie te bly. Ons het in 1999 besluit om acsis as ons portefeuljeadviseurs aan te stel omdat ons hulle beleggingstrategie en die beginsels waarvolgens hulle hul portefeuljes sedert 1982 bestuur het, onderskryf. Die keuse om met acsis saam te werk is reg bewys, aangesien ons nou ‘n baanrekord van bykans 10 jaar in Suid-Afrika het.
Dit is in sulke wisselvallige tye soos die huidige dat ons die basiese beginsels van acsis se filosofie, soos Arun Abey, die HUB van ipac Australië, dit in sy boek “How much is enough?” beskryf het, weereens onder oë moet neem.
Hoe kwaliteit, waarde, diversiteit en tyd werk
KWALITEIT
Die eerste en belangrikste punt is: Daar is altyd ‘n duidelik herkenbare rede waarom kwaliteit maatskappye deurlopend wins maak en dividende betaal. Hulle volg nie die mark slaafs na nie. Tipiese kenmerke sluit ‘n gesonde verdienpotensiaal op die langer termyn, goeie opbrengs op ekwiteit, bekwame bestuur met ‘n goeie baanrekord, ‘n gesonde balansstaat en ‘n betroubare kern van franchiseondernemings in. Hulle kan alombekende name soos Coca-Cola en IBM insluit.
WAARDE
Die tweede beginsel van verstandige belegging, naamlik waarde, is ‘n funksie van kwaliteit en prys. Die gevaar bestaan dat aandele in goeie, kwaliteit maatskappye deur optimistiese beleggers tot sulke hoë pryse opgejaag kan word dat hulle nie meer goeie waarde is nie.
Een van die gevaarlikste gesegdes in die beleggingswêreld is: “Jy kan nooit ‘n fout maak deur … te koop nie”. Sommige van die grootste rampe is daardeur veroorsaak dat mense te veel betaal het vir wat eintlik bates van goeie gehalte is.
Die Australiese ondernemer Alan Bond het dit op die moeilike manier geleer. In die middel van die tagtigerjare het hy die Australiese Nine TV Network by die mediamagnaat Gerry Packer vir ‘n reusebedrag gekoop. Binne net ‘n paar jaar het hy dit aan Packer terugverkoop – teen ‘n breukdeel van die koopprys. Nine Network was ‘n kwaliteit maatskappy toe Bond dit gekoop het, en ook toe hy dit terugverkoop het. Die verskil was bloot dat Packer die maatskappy se waarde beter verstaan het.
Die sleutel tot die bepaling van waarde en kwaliteit is om te weet of die bate ‘n aantreklike opbrengs vergeleke met sy risiko kan lewer.
DIVERSITEIT
Diversifisering is so ‘n ooglopende strategie dat dit vreemd is hoe min beleggers dit volg. Dis eenvoudig ‘n kwessie van die verspreiding van beleggings oor verskillende bateklasse, lande en fondse. Hoewel baie mense met ‘n gediversifiseerde portefeulje begin, konsentreer hulle tipies mettertyd op daardie beleggings wat die beste opbrengste gelewer het. Hulle raak geleidelik ontslae van beleggings wat oor 6 of 12 maande swak gevaar het. Uiteindelik het hulle slegs enkele beleggings wat hoë opbrengste gelewer het in hulle portefeulje oor. Sulke gedrag het in die tyd van die tegnologieborrel algemeen voorgekom. Maar toe die borrel bars was die gevolge verwoestend. Beleggers wat klein aandeelhoudings in die betrokke maatskappye gehad het, het baie minder gehawend daarvan af gekom. Diversifisering is belangrik omdat dit toegang tot ‘n wye reeks beleggingsmoontlikhede bied eerder as om op net een of twee te fokus.
TYD
Die uiteindelike toets vir ‘n geslaagde portefeulje is tyd, en dis waar die syfers die deurslag gee. Hoewel die eerste drie van die vier beginsels nie in die laat negentigerjare ten volle beloon is nie, het hulle na die ineenstorting van die tegnologieaandeleborrel weereens na vore gekom. Beleggers wat op die breër aandelemark gefokus het, het wel onder een van die kwaaiste daalmarkte in die geskiedenis deurgeloop, maar hulle skade was baie minder ernstig en die herstel baie vinniger. Ons weet ook dat die aandelemark op die langer termyn opbrengste van inflasie plus 7,5% opgelewer het. As ons dus ‘n behoorlik en wetenskaplik gediversifiseerde portefeulje het en ‘n tydshorison van meer as sewe jaar, dan kan ons opbrengste verwag wat ons sal help om ons beleggingsdoelwit te bereik.
Ons kan met trots bevestig dat dit presies is wat ons strategiese verhouding met acsis vanaf die begin in 1999 gelewer het.
Het u geweet?
Wanneer u aftree-annuïteit uitkeer is u nie verplig om u maandelikse pensioen van u bestaande versekeraar te koop nie. Baie min mense besef dat hulle kan kies om die maandelikse pensioen by enige versekerings- of beleggingsmaatskappy van hulle keuse te koop. Hulle hoef ook nie ‘n tradisionele pensioen te koop nie, een wat by dood na tien jaar verval; hulle kan kies om ‘m lewende annuïteit te koop waar by dood die totale waarde van die fonds na hulle gade oorgedra word en hy/sy steeds presies dieselfde inkomste sal ontvang as wat die oorlede gade ontvang het.