Plaas jou eiers in ‘n mandjie en ‘n uitgevoerde kissie
Toe ek sowat tien jaar gelede die beleggingswêreld betree het, het ek ʼn fassinerende gesprek met my ouma gevoer. Sy het my die belangrike les om nie al jou eiers in een mandjie te plaas nie, geleer. Dít het sy verduidelik, is die sleutel tot beleggingswelslae aangesien dit ʼn mens se risiko drasties verminder.
Om die punt toe te lig, het sy verduidelik dat sy haar geld in gelyke mate onder vier banke verdeel het.
Al haar geld was opvraagbaar of in ʼn vastedepositorekening afhangende van die koers deur die onderskeie banke betaalbaar, belê. Dié verspreiding van haar risko was vir my volkome sinvol. Dit was eers ietwat later dat ek tot ʼn besef van haar oordeelsfout gekom het. Die fout was dat sy haar risiko glad nie versprei het nie.
Om u eiers in twee mandjies te plaas, is nie voldoende nie. U moet u eiers in ʼn mandjie en ʼn uitgevoerde kissie plaas. Die mandjie sal meer kan dra, maar die kissie is veiliger. Indien u val wanneer u twee mandjies dra, is die gevare ewe groot. U sal baie veiliger met ʼn uitgevoerde kissie wees, maar sal nie so baie eiers kan dra nie. Dít is ʼn toepasliker verspreiding van risiko.
My ouma moes gediversifiseer het deur nie bloot al haar geld by banke te plaas nie, maar ook van die geld in aandele, eiendom of vastekoerseffekte te belê. Dit sou doelmatige diversifisering aan haar voorsien het. Werklike diversifisering vereis verspreiding van u bates onder beleggings met verskillende eienskappe wat verskillend van mekaar sal reageer. Die grootste uitdaging met betrekking tot diversifisering van ʼn beleggingsportefeulje is om te aanvaar dat u ʼn onderpresterende belegging in u portefeulje sal hê. Indien u nie behoorlik gediversifiseer het nie, stuur u op ʼn ramp af. ʼn Behoorlik gediversifiseerde portefeulje moet ʼn onderpresterende komponent bevat. Waardeer die voordele daarvan.
Beleggingsdiversifisering kan gepas deur die roomysverkoper by die waterkant toegelig word. Op ʼn warm dag staan mense in lang toue om roomys van hom te koop. Om ʼn ekstra inkomste te verdien en om sy risiko te verminder, besluit hy om sy besigheid te diversifiseer en om ook koeldrank te verkoop. Daardeur verhoog hy sy inkomste effens omdat van sy klante sowel ʼn roomys as ʼn koeldrank koop en nie-roomyseters nou sy drankies koop.
Hy is nou tevrede dat hy nog ʼn produktereeks by sy besigheid gevoeg het. Dié bykomende produktereeks sal egter nie sy probleem op ʼn koue dag wanneer mense nòg roomys nòg koeldrank wil koop nie, oplos nie. Om op ʼn koue dag nie ʼn inkomste te verdien nie, is ʼn groot besigheidsrisiko. In plaas van koeldrank te verkoop, behoort hy warm sjokolade te verkoop. Daardeur sou hy op koue dae warm sjokolade en op warm dae roomys kan verkoop. Dit is doelmatige diversifisering. Hy sal nou ʼn besigheid hê wat elke dag, die hele jaar deur, vir hom ʼn inkomste sal inbring.
As die lewe maar net sou eenvoudig was. Hy beskik nie oor onbeperkte kontant nie ten einde te verseker dat hy voldoende voorraad van sowel roomys as warm sjokolade vir die uiterste weersomstandighede het. Hoe kan hy voorbly om die regte voorraadbalans aan te hou? Indien daar dieselfde aantal warm dae as koue dae was, sou dit vir hom maklik wees om die helfte van sy geld op roomys en die ander helfte op warm sjokolade te spandeer. Dit is egter nie altyd maklik nie. Die weer in Kaapstad kan op sy beste onvoorspelbaar wees. Hy moet ʼn bietjie beplanning doen en inligting oor die gemiddelde aantal warm en koue dae per jaar verkry en sy voorraad dienooreenkomstig aankoop. Dit sou nog verstandiger vir hom wees om dié statistieke per seisoen en dan per maand te verkry en dienooreenkomstig op te tree. As ses uit tien dae koud is, behoort ses uit tien rand op warm sjokolade en slegs vier uit tien op roomys gespandeer te word. Dit sal help om die regte ewewig voorraad wat hy moet aanhou, te bereik.
Selfs die beste voorraadbestuurstelsel sal nie vir bloedig warm en vriesende dae voorsiening maak nie. Op sulke dae sal hy vloek dat hy nie meer roomys of warm sjokolade aangekoop het nie terwyl hy met oorskotvoorraad van die ander produk sit. Maar terwyl hy homself uitskel, sal hy onthou dat die alternatief sou wees om slegs roomys of slegs warm sjokolade te verkoop. Deur dié benadering te volg, sou hy dae hê waarop hy meer sou kon verdien, maar ook dae waarop hy absoluut niks sou verdien nie. Deur die twee te meng, trek hy voordeel uit albei moontlikhede ofskoon daar tye sal wees wanneer hy nie die groot slag sal slaan nie. Oor die langtermyn het hy ʼn beter besigheid en sal hy meer geld verdien deur doelmatige diversifisering ofskoon dit by tye vir hom beter sou gewees het indien hy by òf roomys òf warm sjokolade sou gebly het.
Die meerderheid van ons sou dieselfde gedoen het indien ons ʼn besigheid sou bedryf. As dit so voor die hand liggend is, hoekom pas ons nie dié lewensopvatting op ons welvaartskeppingstrategie toe nie? Al wat ons behoort te doen, is om warm sjokolade en roomys met kontant en aandele te vervang. Daar is tye wanneer u aandele op u rak behoort te hê, en daar is tye wanneer u kontant benodig. Dié tye sal sonder uitsondering verskil, en dit is uiters moeilik om te bepaal wanneer die tye sal gebeur. Met “toepaslike” navorsing kan ʼn mens meer doen as om bloot te raai. Dit is egter baie sinvoller om ʼn mengsel van die twee toe te pas. U sal die hoogtes, maar ook die laagtes, misloop. Dié balans sal u risiko verminder en u portefeulje doelmatig vir beter langtermyn opbrengste diversifiseer. Onthou dat daar tye sal wees wanneer u nie roomys of nie warm sjokolade sal verkoop nie. U sal egter voorraad van albei moet aanhou, omdat ons nie weet wat more se weer inhou nie.
Moenie oor u strategie huiwer nie. Dit sal u oor die langtermyn welslae bring!