Geen plek vir emosies by ‘n belegging nie

Ek het vir John Kinsley gevra of ons sy artikel wat in die tydskrif Money Marketing verskyn het kan gebruik aangesien ek glo dat dit vir u insiggewend sal wees.

John Kinsley
Besturende direkteur
Prudential Portfolio Managers (South Africa)


Aktief of passief? Waarde of groei? Ekwiteite of obligasies, of miskien kontant?

Beleggers moet nie net met ongestadige effektemarkte worstel en kwellende ekonomiese toestande verduur nie, maar hulle moet ook wys word uit die voortdurende debatte tussen deskundiges oor wat die beter benaderings tot batebestuur is: waarde of groei, aktief of passief.

By Prudential sê ons dat in plaas van om u te bekommer oor die èèn batebestuurder wat ʼn benadering volg wat waarskynlik al die ander sal oortref, of die èèn bateklas wat die beste sal presteer, te kies, moet u strategie eerder op toepaslike diversifikasie gesentreer wees.

As u daarbenewens in staat is om emosies van u benadering te verwyder, sal u waarskynlik beleggingskeuses wat u sal help om oor ʼn tydperk voortreflike opbrengste te bereik, maak.

Die vermoë om besluite sonder die invloed van emosies te neem, is een van die belangrikste vaardighede van ʼn suksevolle batebestuurder. Dikwels is dit dié vermoë wat beleggers in staat stel om toepaslik te diversifiseer – oor die algemeen behels dit om u geld in ʼn bateklas, ʼn streek of ʼn effek wat in die mark in onguns geraak het , te belê.

Neem die Prudential Global High Yield Bond Portfolio as ʼn voorbeeld. Globale effekte het gedurende 2007 swakker as die meeste ander bateklasse presteer, en globale effekte het verder gely as gevolg van die globale kredietkrisis. Die prestasie van die Prudential portefeulje was derhalwe vir die meeste deel van 2007 nie baie opwindend nie.

Dit is onnodig om te sê dat beleggers daarvan weggebly het. Maar dan, gedurende die tydperk vanaf laat in Oktober 2007 tot Februarie vanjaar, het die JE-Indeks van Alle Aandele ʼn wipwaentjierit verduur en op ʼn tydstip bykans al die vroeër winste van 2007 ingeboet. Terselfdertyd het globale effekte effens van ʼn ‘vlug na gehalte’ geniet, en dít, tesame met die swakheid van die rand, het beteken dat die Prudential Global High Yield Bond Fund of Funds vir die eerste kwartaal van 2008 ʼn opbrengs in rand van oor 27 persent gelewer het.

ʼn Gedeelte van al ons kliënte se globale gebalanseerde portefeuljes is in globale effekte belê. Ofskoon dit verlede jaar sielkundig dalk moeilik was om daaraan vas te hou, is dit aan die begin van hierdie jaar as ʼn verbasende buffer teen ongestadigheid bewys.

Vir beleggers is dit die moeilikste om te leer dat verskillende bateklasse en effekte op verskillende wyses sal presteer wanneer marktoestande verander. Desgelyks sal die onderskeie benaderings wat deur batebestuurders gevolg word op verskillende tydstippe verskillende resultate oplewer.

Oor die afgelope jaar of twee, soos waardasies gekonsentreerder geword het, het baie waardebestuurders in teenstelling met hul meer groeibepaalde mededingers gesukkel. Dít was ʼn globale verskynsel, soos die prestasiegrafieke toon. Maar ná die laaste gebeurtenisse is waardebestuurders in staat om vooruit te beplan deur goedkoop effekte wat waarskynlik more se skatjies sal word, te verken. En oor die afgelope jaar of wat was dit vir die meeste aktiewe ekwiteitsbestuurders moeilik om hul toonaangewers soos die JE-Indeks van Alle Aandele te klop waaroor passiewe bestuurders hulself verlustig het.

Maar dit kan sonder te veel waarskuwing verander. Die vraag is of u, as belegger, vir sodanige verandering gereed is.

Toe die JE-Indeks van Alle Aandele in Januarie vanjaar ‘n laagtepunt bereik het en beleggers uit ekwiteite gevlug het, het ons, by Prudential, begin om ekwiteite en genoteerde eiendom te koop. Ofskoon dit uit ʼn emosionele standpunt moeilik was, is ons beloon toe die mark ʼn paar dae later begin omkeer.

Ons kan getuig van ʼn fonds-van-fondsebestuurder wat in Januarie, ʼn dag voordat genoteerde eiendom met 3 persent teruggespring het, al genoteerde eiendomsbesit verkoop het. Dié bestuurder het nie net ʼn verlies vir sy beleggers teweeggebring nie, maar hy het ook bewys dat markstydberekening nooit lonend is nie.

Beleggers behoort nie ʼn alomvattende benadering wat dikteer dat dit die beste is om teen die kudde te hardloop, in te neem nie. In stede daarvan moet u die dissipline en oortuiging ontwikkel om te koop wanneer die mark goedkoop is en om, wanneer dit nodig is, “uit die mode”-geleenthede in te sluit om die portefeulje te diversifiseer.

Diversifikasiebeginsels hoef nie net op bates van toepassing te wees nie. Indien die debatte oor waarde en groei of aktief en passief u verward laat, kan u oorweeg om ook oor batebestuurders te diversifiseer.

Onthou egter dat as u portefeulje ooreenkomstig u langtermynbehoeftes opgestel is en dienooreenkomstig gediversifiseer is, hoef u oor niks bekommerd te wees nie. Indien dit egter nie die geval is nie, hoe eerder u ʼn bietjie raad inwin hoe beter.

Leave a Reply