Die dood van aandele?

Agtien maande gelede was beleggers eufories oor die prestasie van aandelebeleggings. Dat daar risiko aan verbonde kan wees of dat die gevaar bestaan dat die aandele kan daal, het toe geensins ‘n rol by besluitneming gespeel nie. Die situasie het mens amper aan aasvoëls by ‘n karkas laat dink.

 

Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Aandele het gesneuwel – oftewel hulle word behandel soos familielede wat skandes gemaak het en oor wie daar liewer nie gepraat word nie.

 

Die beleggingsomgewing het inderdaad wesenlik verander. Groot maatskappye met ‘n bewese opbrengsgeskiedenis van meer as honderd jaar bestaan skielik nie meer nie. Ander wat oorleef het, se markkapitalisasie het kommerwekkend gekrimp.

 

Beleggers is dus met goeie rede bevrees. Min mense het al ‘n soortgelyke ekonomiese krisis beleef. Die reddingsboeie wat deur regerings uitgegooi is om die ekonomie te stabiliseer het tot dusver min invloed gehad.

 

Ons eie ekonomie begin nou eers werklik die koue winde van verandering voel, terwyl kenners maan dat die ergste nog aan die kom is.

 

Is aandele dus waarlik dood … of is hulle nie? Alhoewel geen deurwinterde aasvoël ‘n vars karkas met rus sal laat nie, is die moontlikheid tog daar dat beleggers dalk die grootste beleggingsgeleentheid ooit deur hul vingers kan laat glip.

 

Alhoewel niemand waarskynlik die draaipunt van die beermark reg kan voorspel nie, is menige fondsbestuurder dit eens dat daar vele maatskappye daar buite is wat die storms suksesvol sal oorleef. Die mark het die geneigdheid om te draai terwyl die nuus op die ekonomiese front steeds ‘n baie donker prentjie skilder.

 

Kan dit wees dat beleggers weer onkant gevang gaan word?

 

Indien jy jonk is of dalk onlangs met ‘n spaarpoging begin het, kan jy vir jou ‘n stewige fondasie vir die toekoms lê deur in ‘n gefokusde aandelebeleggingsstrategie te belê. En moenie paniekerig word as daar in die toekoms weer swaar ekonomiese tye is nie. Onthou markte beweeg altyd in siklusse en deur meer te belê wanneer die markte daal, kan jy jou totale opbrengs oor tyd baie verbeter.

 

Indien jy reeds afgetree is en inkomste uit jou portefeulje moet onttrek, moet jy diversifiseer om negatiewe siklusse effektief teen te werk. Maak seker dat jy ‘n getoetste beleggingsstrategie het, en hou daarby oor die lang termyn.

 

Indien die top sake-entrepreneurs vir die langer termyn nie iets beter met hulle kapitaal kan doen as om dit in ‘n veilige bankbelegging te plaas nie, dan is aandele inderdaad dood.

 

Aandele is dood, lank lewe aandele!

Tags: ,

Leave a Reply