Waarom het voorste sportlui afrigters nodig?

Mense soos Ryk Neethling, Tiger Woods, Lance Armstrong en die Williams-susters het ‘n aangebore talent vir hul onderskeie sportsoorte – dus, wat sal iemand anders hulle kan leer? Hierdie internasionaal bekende sportlui is toegewyd, vasberade en selfversekerd. Waarom benodig hulle dan afrigters?

 

Agter feitlik elke kampioensportpersoon is daar ‘n kampioenafrigter wat leiding op drie gebiede verskaf: die verbetering van tegniek, die stel van kort- en langtermyndoelwitte en die voortdurende aanvuur van die persoon om gemotiveerd en op koers te bly ten einde die gestelde doelwitte te bereik. ‘n Finansiële afrigter, oftewel ‘n finansiële beplanner, vervul ‘n soortgelyke rol vir kampioenbeleggers.

 

Die stel van kort- en langtermyndoelwitte

Enige suksesvolle sportpersoon, trouens enige persoon wat in ‘n besondere veld sukses behaal, sal saamstem dat dit uiters belangrik is om doelwitte te stel. ‘n Afrigter wat saam met ‘n sportpersoon begin werk, sal aanvanklik nie aan dieet, fiksheid of ‘n oefenroetine aandag gee nie. Die afrigter sal eerstens saam met die sportpersoon realistiese doelwitte stel, en daarna sy of haar vermoëns, fiksheid en potensiaal evalueer om sodoende ‘n program of plan op te stel sodat hy of sy die beste kans sal hê om hierdie doelwitte te bereik.

 

Op dieselfde manier sal dit beleggers baat om duidelike, realistiese doelwitte te stel, byvoorbeeld wat betref die inkomstevlak wat hulle in hul aftreejare wil hê. Hoewel langtermyndoelstellings noodsaaklik is, is korttermyndoelstelllings ook baie belangrik omdat meeste mense finansiële behoeftes het wat nie tot by aftrede uitgestel kan word nie. Sodanige behoeftes, byvoorbeeld die koop van ‘n nuwe motor of die afbetaling van skuld, kan almal in ‘n langtermyn finansiële plan ingebou word. Op dié wyse kan beleggers op hul pad na voortgesette finansiële welstand ‘klein oorwinningkies’ behaal en geniet.

 

Die gee van deskundige tegniese raad

Sportlui word kampioene deur toegang te hê tot die jongste tegnologie en inligting oor tegniese opleidingsmetodes, en, van die grootste belang, deur ‘n betroubare afrigter te hê.

 

Beleggers moet ook soveel tegniese inligting as moontlik versamel wat hulle kan help om hul beleggings te verstaan. Elke persoon se omstandighede verskil en benodig ‘n eie benadering om te verseker dat die gestelde doelwitte bereik word. Dit kom daarop neer dat elke belegger ‘n pasgemaakte strategie nodig het wat sy of haar behoeftes pas, hetsy dit aftredebeplanning, nalatenskapbeplanning, doeltreffende belastingbeplanning of enige ander behoefte behels. Kundige finansiële raadgewers sal hul aandag op hierdie behoeftes toespits en hul tegniese kundigheid aanwend om ‘n verstandige plan op te stel en by te hou. Dit sluit raadgewing oor gesonde beleggingsbeginsels soos diversifikasie in.

 

Hulp om hindernisse in die pad van sukses te bowe te kom

Die stel van duidelike doelwitte en die ontwikkeling van ‘n strategie om dié doelwitte te bereik, is noodsaaklik vir beleggers en sportlui. Op pad daarheen is daar groot uitdagings, maar ook belonings. Dit is hier waar afrigters hul grootste waardetoevoeging kan lewer!

 

Kampioenafrigters help sportlui om terugslae, soos beserings, die hoof te bied, en om psigologiese hindernisse wat in die pad van sukses staan by die horings te pak. Dié sportlui wat korttermynpyn en -terugslae ignoreer en op hul doelwitte konsentreer, sal heel waarskynlik dié wees wat langtermynsukses behaal.

 

Beleggers word deur soortgelyke hindernisse gekortwiek. Suksesvolle beleggers moet byvoorbeeld leer om dan en wan met die pyn van markdalings saam te leef. Hulle moet weet wat die verskil is tussen ‘n korttermynverlaging in die waarde van hul portfolio en permanente kapitaalverlies. Oordrewe vreesagtigheid veroorsaak dat sommige beleggers in moeilike markomstandighede hul bates verkoop teen ‘n laer prys as wat dit werd is. Ander beleggers kom weer in die versoeking om vir lang tye hul geld in lae-opbrengsbates te los. Oordrewe optimisme kan net so skadelik wees. Byvoorbeeld, beleggers wat gretiglik “warmaandele” of “warmfondse” najaag, vaar dikwels ewe swak omdat hul vooruitskouings nie op ‘n realistiese beoordeling gegrond is nie. In sulke gevalle help kundige finansiële afrigters die beleggers om hul emosies en ander gedragseienskappe wat in die pad van sukses staan, beter te hanteer en bestuur. Beleggers wat in moeilike markomstandighede die versoeking van selfvernietigende optrede kan weerstaan, en in goeie tye op eenvoudige beleggingsbeginsels ingestel kan bly, sal die beste moontlike kans staan om hul doelwitte te bereik.

 

Alles in ag genome, ervaar kampioensportlui en -beleggers die meeste sukses as hulle die pad saam met kampioenafrigters stap.

Tags: ,

Leave a Reply