Afgedank? Trek die meeste voordeel daaruit!
Deur Shaun Latter – acsis Afrigter in Finansiële Beplanning
Organisasies oor die hele wêreld is erg deur die huidige treurige marktoestand en ekonomiese omgewing geaffekteer. As gevolg daarvan staar baie mense nou moontlike afdanking in die gesig.
Afdanking, hetsy gedwonge of vrywillig, kan een van die mees ontstellende ervarings in ‘n mens se lewe wees. Afgesien van die emosionele sy daarvan, gee dit aanleiding tot verskeie finansiële bekommernisse waarmee jy nie voorheen hoef te geworstel het nie. Van die vrae wat jou kan teister kan wees hoe om die mas op te kom tot jy weer ‘n werk kry, moet jy die enkelbedrag tot jou beskikking gebruik om jou skuld af te betaal en wat is die beste manier om jou geld te laat hou. In die tydperk wat op jou afdanking volg, is dit belangrik dat jy gesonde finansiële beplanning aan die dag lê. Dít kan bepalend wees vir jou langtermyn finansiële welstand.
Die natuurlike reaksie op afdanking is gewoonlik skok en dikwels woede, wat dan noodwendig oorgaan na gevoelens van onsekerheid. Dit gebeur wanneer ons “grotman”-instink oorneem; ons neem ‘n pas-aan-of-kom-om-houding aan en ons verstek-denkpatroon word een van oorlewing. Maar terwyl ons in hierdie oorlewingsdenkpatroon vasgevang is, bestaan daar min twyfel dat logiese, gesonde, langtermyn finansiële besluite ons sal begin ontwyk.
Hoewel afdanking angstigheid meebring, sê baie mense later dat dit die skop was wat hulle aan die gang gesit het om ernstig oor finansiële onafhanklikheid te begin dink. Maar waar begin jy?
Eerstens moet ons onsself teen die “grotman” in ons binneste beskerm. Dit is belangrik om ‘n stewige raamwerk te hê waarvolgens ons ingeligte en logiese besluite kan neem wat ons doelstellings vir die toekoms en ons huidige behoeftes in ag neem. Daarom moet jy eers jou huidige situasie evalueer, en dit wat jy nou tot jou beskikking het, bepaal, en dan jou paadjie vorentoe in ooreenstemming met jou behoeftes beplan.
Jou huidige situasie word gewoonlik deur jou huidige likiede beleggings bepaal, asook deur die skeidings- of afdankingspakket wat aan jou betaal is. Die volgende is basies wat jy kan verwag om by afdanking te ontvang:
~ skeidingsbetaling – gewoonlik is dit ten minste ‘n week se betaling vir elke voltooide en onafgebroke jaar se diens. Neem kennis dat die eerste R30 000 belastingvry sal wees – ‘n eenmalige vrystelling deur SARS.
~ uitstaande verlof – dit word as bruto inkomste uitbetaal
~ kennisbetaling – dit is gewoonlik vier weke se betaling (vir meer as een jaar se diens)
~ pro rata bonus – dit sal van jou indiensnemingskontrak afhang
~ Werkloosheidversekeringsfonds – die formules is nogal ingewikkeld en hang van inkomstekategorieë en jare diens af. Dit maak dit baie moeilik om te bepaal wat presies mens kan verwag. Die algemene riglyn is dat mens ongeveer 40% van jou finale salaris vir omtrent nege maande sal ontvang.
~ pensioen-/voorsorgfonds – jy kan kies om jou aftree-spaargeld later na jou nuwe werkgewer se fonds of na ‘n bewaringsfonds oor te plaas. Jy kan ook kies om jou voordeel te onttrek en die kontant te neem.
Met die uitsondering van jou pensioen-/voorsorgfonds moet jy al die bogenoemde gebruik om jou skuld te delg en jou te help om jou maandelikse uitgawes te betaal. Wanneer jy besluit wat om met jou pensioen-/voorsorgfonds te doen, moet jy baie versigtig die gevolge van jou besluit oorweeg. Indien jy, soos baie mense, in die versoeking kom om die kontant te neem, moet jy in gedagte hou dat die bedrag erg deur belasting geërodeer gaan word en dat die langtermyngevolge rampspoeding kan wees.
Byvoorbeeld, ‘n 40-jarige wat die afgelope 10 jaar 10% van sy of haar pensioendraende salaris bygedra het en beplan om op 60 af te tree sal ten minste drie keer meer onmiddellik na afdanking moet bydra net om vir die verlies aan saamgestelde rente te vergoed. Hoe langer jy bygedra het en hoe nader jy aan aftrede is, hoe meer is die faktore wat tot jou nadeel is. Dit is veral ‘n belangrike punt om te oorweeg indien jy daaraan dink om die kontant te neem om jou verbande af te betaal.
Sodra jy ‘n goeie idee van jou huidige finansiële situasie het, kan jy begin om aandag aan jou behoeftes te gee. Jou behoeftes moet realisties en weldeurdag wees want jou strewe moet wees om jou maandelikse uitgawes so laag moontlik te hou. Die twee gebiede waar dit bereik kan word, is die volgende:
gesinsbegroting
Hou ‘n dinkskrum met jou gesin (onthou dis ‘n gesamentlike poging) en stel ‘n omvattende begroting op. Dit sal julle in staat stel om te onderhandel oor waar julle die uitgawes kan besnoei. Daar kan ononderhandelbare uitgawes soos veiligheid en mediese dekking wees, en dit is te verstane. Die geheim is om almal wat betrokke is sover te kry om in te koop en verbind te bly.
skuld
Wanneer jy willekeurige uitgawes sover moontlik besnoei het, moet jy aandag aan skulddelging gee. Rente op skuld het ‘n verlammende effek op jou maandelikse verpligtinge en algemene finansiële welstand. Die praktiese reël is dat kortertermynskuld (bv ‘n kredietkaart) se rentekoers gewoonlik hoër is en daarom eerste afbetaal moet word. Waar moontlik moet die enkelbedrag wat jy ontvang, gebruik word om hierdie tipe skuld af te betaal.
Die mees gepaste benadering om jou finansies te bestuur hang geheel en al van jou persoonlike situasie af. Selfs al begin jy onmiddellik met ‘n nuwe werk, sal die keuses wat jy nou maak jou toekomstige lewenstyl bepaal. Dit geld veral vir die besluite wat jy oor jou aftree-spaargeld neem. Daarom is dit altyd ‘n goeie plan om ‘n Gesertifiseerde Finansiële Beplanner te raadpleeg om jou te help om ‘n strategie uit te werk wat aan al jou behoeftes en doelstellings vir die toekoms voldoen.
Tags: Add new tag, Investments, Retrenched