Beleggers is weer gevang.

Beleggingskundiges is dit eens dat dit haas onmoontlik is om deur tydsberekening die markte reg te voorspel. Die artikel hieronder wat op 30 Oktober 2009 in Beeld se Sake afdeling gepubliseer is toon weereens hoe onvoorspelbaar die beleggingsmarkte kan wees en dat dit tyd in die mark  eerder as tydsberekening is wat goeie opbrengste verseker.

Beleggers het behoorlik hul bene gebreek om in die derde kwartaal uit geldmarkfondse te klim.

In die derde kwartaal het geldmarkfondse ’n netto uitvloei (beleggings minus onttrekkings) van R5,8 miljard beleef.

Dit is die grootste uitvloei in vyf jaar, volgens die vereniging vir spaar en beleggings van Suid-Afrika (Asisa).

Beleggers het die kwartaal R91 miljard in geldmarkfondse belê en R96,9 miljard onttrek.

Die bates onder bestuur in geldmarkfondse was einde September R235,9 miljard – dit is ’n derde van die totale bates onder bestuur in binnelandse fondse.

Fondsbestuurders het hul teleurstelling uitgespreek oor dié gedrag van gewone beleggers wat toon hulle reageer al weer te laat op die markte.

Die geld is verskuif na fondse met ’n blootstelling aan aandele.

Die grootste netto invloei is deur binnelandse batetoewysingfondse van R9,75 miljard verkry.

Mnr. Jeremy Gardiner, ’n direkteur van Investec Batebestuur, sê die syfers dui aan dat gewone beleggers die herstel in die aandelemarkte grootliks misgeloop het.

In die derde kwartaal is die styging in aandeelpryse voortgesit wat sewe maande gelede begin het.

Die indeks van alle aandele (Alsi) het van vroeg in Maart tot einde September met meer as 37% gestyg.

Gardiner sê dit is duidelik dat gewone beleggers in Suid-Afrika soos in ander ontwikkelende markte nie die herstel in die aandelemarkte vertrou het nie.

“Hoekom sou hulle?

“Die konsensus was per slot van sake dat dit net tydelik sou wees,” sê hy.

Volgens hom was die konsensus dat markte sowat 15% sou styg en dan weer sou val.

“Ongelukkig vir beleggers het dit nie plaasgevind nie en die meeste beleggers wag nog op die kantlyn om weer in aandele te belê.”

Hy meen die invloei wat batetoewysingsfondse getoon het, dui aan gewone beleggers beskou die huidige wisselvallige markte as te moeilike vaarwater en plaas die verantwoordelikheid in batebestuurders se hande.

Die totale bates onder bestuur in effektetrusts (ingesluit internasionale fondse) was aan die einde van die kwartaal R747 miljard.

In die afgelope jaar tot einde September is ’n netto invloei van R99 miljard in effektetrusts gesien – die tweede hoogste netto invloei oor 12 maande nóg, volgens Asisa.

Die grootste invloei nóg is in die jaar tot einde Junie vanjaar behaal, van R103 miljard.

Tags: , ,

Leave a Reply